|

AFRIFORUM-BEHEERKAMER VIR GAUTENG, LIMPOPO EN MPUMALANGA HANTEER MEER AS 960 GEVALLE IN APRIL

AfriForum se beheerkamer vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga het in April 2021 meer as 960 gevalle gehanteer en die organisasie se buurtwagte in dié provinsies ondersteun. Die doel van die beheerkamer is om AfriForum-buurtwagte te ondersteun deur te verseker dat hulp en die nodige hulpbronne vinniger ontbied kan word.

AfriForum-buurtwagte in dié drie provinsies het in April altesaam 760 patrollies gery (194 in Gauteng, 120 in Mpumalanga, 446 in Limpopo), waaraan 775 mense deelgeneem het.

“Gevalle wat baie in dié streek uitstaan, is onluste. Die getal onluste in die drie provinsies is hoër as gewoonlik. In Januarie was daar nege gevalle van onluste, in Februarie 30, in Maart 104 en in April 83,” sê Llewellyn Hemmens, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga.

“Die beheerkamer bied talle voordele aan AfriForum-buurtwagte. Dit wys misdaadtendense uit en watter tipe misdaad in sekere gebiede toeneem. Met betrekking tot tendense wat toeneem, kon ons duidelik tydens Paasnaweek sien dat misdaad beduidend toegeneem het. Dit het daartoe gelei dat ons meer patrollies gehou het,” sê Hemmens.

AfriForum doen weereens ʼn beroep op lede van die Gautengse publiek om waardevolle items uit hul voertuie te verwyder en te verseker dat voertuie op ’n veilige plek gestop word. Voertuigdiefstal het in Maart en April in dié gebied toegeneem.

Raak by jou naaste AfriForum-buurtwag betrokke en maak ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap: SMS jou dorp se naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings