|

AfriForum bekommerd oor aanlynregistrasieplatform vir Gautengse skole

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het vandeesweek aangekondig dat die provinsie gaan wegdoen met skole se voormalige papiergedrewe inskrywingsproses en dat ouers slegs aanlyn aansoek sal  kan doen om hul kinders vir volgende jaar by skole in Gauteng in te skryf.

Volgens Lesufi is die hoofdoel met die proses om ’n gesentraliseerde databasis te ontwikkel wat die departement sal help met die monitering van toelatingsprosedures in die provinsie asook om die aansoekproses meer toeganklik vir ouers te maak.

Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, sê die aanlynregistrasieplatform is net nog ʼn manier om die onderwysdepartement in ʼn posisie te plaas om beheer te hê oor die plasing van leerlinge in skole.

“Die doel van hierdie registrasieplatform is nie om ouers te help en lang rye vry te spring nie, nog minder om alle skole gelyke registrasietydperke te gee nie. Dit is ook teenstrydig met die Skolewet waar ʼn skoolbeheerliggaam besluit oor die skool se toelatingsbeleid.”

Sy meen die aanlynregistrasieplatvorm gaan hierdie reg van beheerliggame ontneem.

Die platform is reeds in 2015 in werking gestel en volgens Bloem het dit nie veel sukses opgelewer nie. Ouers het toe nog die opsie gehad tussen aanlyn- en papiergedrewe inskrywings.

“AfriForum vrees dat dieselfde ramp besig is homself hierdie jaar te herhaal. Talle leerlinge het steeds met die aanvang van 2016 nie plek in skole gehad nie omdat hulle nie deur die stelsel opgetel is nie of omdat skool- en aanlynregistrasies nie gekoördineer is nie.”

Luidens mediaberigte is die Gautengse onderwysdepartement vanjaar gekonfronteer met sowat 20 000 leerlinge wat weens verplasings en laat inskrywings nie toegang tot skole gehad het nie. Gevolglik is die aantal leerlinge per klas opgestoot na 45 en tydelike klaskamers is by sekere skole opgerig om leerlinge te akkommodeer. Sewe nuwe skole is ook in die provinsie geopen in die begin van die akademiese jaar.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het aan Forum Nuus gesê dat hulle nog baie vrae het rondom die aanlynstelsel. Hy sê hoewel so platform dit makliker sal maak om die verkeer van die inskrywingsproses te beheer, gaan dit net groter probleme veroorsaak indien dit nie korrek geïmplimenteer word nie.

“Hoewel die departement beplan om ouers sonder internettoegang te help, gaan die platform steeds nie die proses vir almal vergemaklik nie. Party mense woon in afgeleë dele van die provinsie of het nie die nodige tegniese vaardighede om met so ’n stelsel te werk nie. Daar gaan dus steeds streke en kinders wees wat nie deel van die proses sal wees nie.”

Hy stel voor dat ouers steeds na die skole van hul keuse gaan en hul kinders self inskryf. Hy sê voorts dat Fedsas met die departement sal vergader om te praat oor ander problematiese aspekte soos dat die stelsel nie skole se taal- en toelatingsbeleide in ag neem nie.

AfriForum het ’n dringende beroep op ouers gedoen om hul kinders voor 11 April by die skole van hul keuse vir 2017 in te skryf.

Soortgelyke plasings