|

AfriForum belig inmenging in sport internasionaal

AfriForum het pas klagtes teen sportkwotas en politieke inmenging in sport by Wêreldrugby in Dublin, Ierland, en die Internasionale Netbalfederasie in Manchester, Brittanje, ingedien.

Die afvaardiging onder leiding van Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, vergader ook met van die liggame se besture om die kwessie internasionaal te belig. ’n Verslag getiteld: Transformasie in SA Sport: Telbord nie in regering se guns, wys op die vergrype in Suid-Afrika waar sportlui op grond van kwotas en nie meriete nie in spanne ingesluit word.

Politieke inmenging is teen internasionale sportregulasies en reëls.

Die liggame wat besoek sal word, sluit in Wêreldrugby (WR) in Dublin, Ierland, die Internasionale Netbalfederasie (INF) in Manchester, Brittanje, die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) in Monaco, die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) in Lausanne, Switserland, en die Internasionale Krieketraad (IKR) in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE).

Die publiek word aangemoedig om hul steun te wys en hul naam by die klag te voeg. Besoek AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za of stuur jou naam na 45113. SMS kos R1.

Soortgelyke plasings