|

AfriForum bemagtig veiligheidstrukture met opleiding

AfriForum Gemeenskapsveiligheid het vanaf 16 tot 18 September opleiding aan buurtwaglede aangebied wat verskillende kursusse vir buurtwagleiers, inligtingspanleiers, operasiespanleiers en steunspanleiers ingesluit het. Hierdie vier aspekte vorm die kern van AfriForum se buurtwagstrukture. Die opleiding is buite Pretoria aan onder meer die Randfontein-, Apiesrivier-, Alberton-, Rayton-Heuwelsig-, Hartbeespoort-, Hospitaalpark-, Bethlehem- en Brakpan-buurtwagte aangebied.

Die afgelope week het AfriForum ook sy sesde protospankursus aangebied. Protospanlede is die sogenaamde spiespunt van AfriForum-buurtwagte se reaksiespanne en ontvang gespesialiseerde opleiding wat hand-tot-hand gevegskuns, mediese opleiding en taktiese wapenhantering insluit.

AfriForum het sowat 160 veiligheidstrukture landswyd met byna 10 000 opgeleide vrywilligers.

“Ons is baie trots op al ons buurtwaglede wat hulself beskikbaar stel om hul gemeenskappe op so ’n onbaatsugtige manier te dien. Ons as AfriForum sal voortgaan om te verseker dat hierdie lede puik gehalte opleiding ontvang om sodoende ons buurtwagte so effektief moontlik te maak,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

“Misdaadvlakke in Suid Afrika is aan die toeneem in beide landelike- sowel as stedelike gebiede en die SAPD het al self erken dat hulle nie hul mandaat kan vervul nie. Ons moedig dus lede van die publiek sterk aan om by die beveiliging van hul gemeenskappe betrokke te raak en om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit,” sluit Broodryk af.

Klik hier om by jou plaaslike AfriForum-veiligheidstruktuur betrokke te raak.

Soortgelyke plasings