|

AfriForum beplan regstappe teen Tshwane Metroraad oor rioolbesoedeling

AfriForum beplan regstappe teen die Tshwane Metroraad oor die munisipaliteit se versuim om te reageer op die burgerregte-organisasie se memorandum waarin op ʼn aksieplan aangedring word rakende grootskaalse rioolbesoedeling in Apiesrivier.

Die burgerregte-organisasie het geëis dat die munisipaliteit binne sewe dae op dié memorandum moet reageer.

Dít volg nadat lede van AfriForum se Apiesrivier-tak op 7 Julie sowat 10 kg vlieë, rioolvuil en ʼn memorandum by Tshwane se hoofkantoor oorhandig het as ʼn protesaksie teen die onbehandelde riool by die Rooiwal-rioolwerke. Dit veroorsaak grootskaalse besoedeling in die omgewing.

Luidens mediaberigte het die munisipaliteit ontken dat AfriForum met hulle gekommunikeer het rakende die rioolprobleem by Apiesrivier, ondanks die feit dat lede van die Tshwane Metropolisie dié memorandum namens die munisipale direksie op 7 Julie ontvang het.

Weens besoedeling is die Apiesrivier en die ondergrondse water in die landelike gebied besoedel en is die sowat 100 ha grond waar die onbehandelde slik gestort word, ’n ideale broeiplek vir vlieë wat groot gesondheidsrisiko’s vir inwoners en die omgewing inhou.

Volgens Tarien Cooks, veiligheidskoὃrdineerder by AfriForum, spreek die munisipaliteit se optrede daarvan dat die basiese behoeftes van inwoners nie ernstig opgeneem word nie en dat ander minder belangrike kwessies, soos tegnologie, eerder prioriteit geniet.

“Ons is uiters teleurgesteld met die wyse waarop die munisipaliteit op die saak gereageer het. Die saak sloer nou al ʼn geruime tyd en die rioolprobleem het intussen baie vererger. Dringende ingryping is nou nodig.”

Indien lede van die publiek op enige wyse by hierdie projek betrokke wil raak, kan hulle Cooks, AfriForum se koördineerder in Pretoria-Noord, by tarien@afriforum.co.za kontak.

Soortgelyke plasings