| |

AfriForum berei voor op regsaksie teen COVID-19-kwarantynkampe

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om te begin voorberei vir ’n regsgeding teen sekere regulasies wat deur die Suid-Afrikaanse regering gepubliseer is. Die gewraakte regulasies gee die staat mag om enigeen te vervolg wat positief getoets het vir COVID-19 en weier om na ’n regeringsbeheerde kwarantynkamp vir COVID-19-pasiënte te gaan. Dit stel die staat ook in staat om mense met geweld in regeringskampe onder kwarantyn te plaas, selfs in gevalle waar dié mense oor die vermoë beskik om hulself onder selfkwarantyn te plaas en bereid is om dit te doen. ’n Prokureursbrief tot dié effek is vandag gestuur aan Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering. In sy brief plaas AfriForum die Minister op terme en versoek ’n antwoord binne 48 uur. Dié aksie volg op ’n aankondiging van Nomagugu Simelane-Zulu, LUR vir Gesondheid in KwaZulu-Natal, dat die provinsiale regering besluit het om die beleid van self-isolasie te verwerp vir mense wat positief toets vir COVID-19.

Simelane-Zulu het gesê dat enigeen wat vanaf Sondag voortaan positief toets vir COVID-19 in staatsgeïdentifiseerde kwarantynkampe aangehou en gemoniteer gaan word. Sihle Zikalala, die Premier van KZN, het bygevoeg dat nuut gediagnoseerde COVID-19-pasiënte na staatsgekeurde isolasieterreine “geneem” sal word vir behandeling.

“The issue with self-isolation – we are saying it is coming to an end,” het die Premier gesê. “Once we have discovered that you have tested, we take you, and that is the end. Up and until you recover, we [will then] release you back into the community,” het Zikalala tydens ’n mediageleentheid gesê. Dié beleidsbesluite en aankondigings word gemaak binne die raamwerk van die nasionale regulasies wat deur die Minister van Samewerkende Regering uitgevaardig is ingevolge regeringsmaatreëls wat geneem moet word om die verspreiding van COVID-19 te beperk.

Die Minister word versoek om in haar antwoord toe te stem dat ’n voorwaarde tot die regulasies gevoeg moet word wat bepaal dat mense wat positief toets vir COVID-19 en oor die vermoë beskik om te selfisoleer, toegelaat moet word om met dié self-isolasie voort te gaan sonder die bedreiging van ’n gewelddadige verwydering na ’n staatsbeheerde kwarantynkamp. Die Minister word ook versoek om ’n boodskap aan die toepaslike regeringstrukture te stuur om hulle van dié voorwaarde in te lig. Versuim om aan dié versoeke gehoor te gee, sal AfriForum met geen ander keuse laat nie as om verdere regsaksie in dié opsig te neem.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dat die optrede van die KZN-regering dit duidelik maak dat die nasionale regulasies irrasioneel is, omdat dit voorsiening maak vir maatreëls wat nie net drakonies van aard is nie, maar wat ook redelike pogings in die wiele ry om die verspreiding van die virus te verhoed.

“Die besluit deur die KZN-regering – wat ooreenkomstig die nasionale bepalings geneem is – is ’n skending van die mees basiese vryhede en waardigheid van mense en kom op maatreël neer wat op geen wyse verantwoordbaar is in enige demokrasie wat deur die beginsels van vryheid, regverdigheid en die reg gerig word nie. Tweedens is die voor-die-hand-liggende gevolg van dié maatreël dat mense wat simptome van COVID-19 toon of wat besef dat hulle in aanraking was met iemand wat positief getoets het vir COVID-19 hulself eenvoudig nie aan toetsing gaan blootstel nie. In die derde plek is die besluit heel duidelik irrasioneel in die sin dat ’n enorme en heel onnodige las op beperkte staatshulpbronne plaas,” verduidelik Roets.

Soortgelyke plasings