AfriForum berei voor vir regsaksie teen onteiening sonder vergoeding


Die burgerregte-organisasie AfriForum het aan sy regspan opdrag gegee om voor te berei vir regsoptrede om die proses te stuit om artikel 25 van die Grondwet (die eiendomsregklousule) te verander om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak.
Dit volg ná dit aan die lig gekom het dat die parlementêre komitee wat hiermee gemoeid is, bereid is om ’n verskeidenheid van prosedurele gebreke oor die hoof te sien om tot die gevolgtrekking te kom dat die Grondwet wel gewysig moet word.
AfriForum het vroeër vanjaar sowel ’n memorandum as ’n petisie – wat standpunt teen onteiening sonder vergoeding ingeneem het en deur meer as 250 000 van AfriForum se lede en ondersteuners onderteken is – by die parlement ingedien. Die parlementêre komitee het dit egter duidelik gemaak dat hulle hierdie petisie en memorandum verwerp, asook die feit dat 65% van die skriftelike betoë oor die algemeen teen onteiening sonder vergoeding gekant is.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat dit baie duidelik is dat die komitee ’n politieke doelwit het en bereid is om ooglopende prosedurele gebreke in die proses te ignoreer om sy mandaat uit te voer.
AfriForum het in hierdie verband met ’n senior advokaat gekonsulteer, wat reeds besig is om op regsaksie voor te berei.

Soortgelyke plasings