|

AfriForum beskou ANC se opdok vir vlug op lugmagvliegtuig as erkenning van skuld

AfriForum beskou die ANC se aankondiging deur Ace Magashule, sekretaris-generaal van die party, dat die ANC gaan betaal vir die gebruik van ’n lugmagvliegtuig wat sekere lede van die party na Harare gevlieg het, as ’n erkenning dat die ANC nasionale bates misbruik het.

Dit volg nadat die burgerregteorganisasie verlede week aangedui het dat hy regstappe sal neem, sou dit aan die lig kom dat staatsbates onregmatig deur die ANC gebruik is. AfriForum het verder aan dr. Naledi Pandor, die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Nosivwe Mapisa-Ngakula, Minister van Verdediging en Militêre Veterane (wat self die besoek meegemaak het), en Tito Mboweni, die Minister van Finansies, geskryf vir ’n verduideliking of die lugmagvliegtuig regmatig gebruik is. Die burgerregteorganisasie het ook ’n klag by die Openbare Beskermer ingedien.

Volgens Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, bepaal artikel 80(3) van die Verdedigingswet 42 van 2002 dat bates wat aan die Weermag behoort slegs in uitsonderlike gevalle gebruik mag word vir ander doeleindes as die beskerming van die land. Dié gevalle moet aan sekere voorwaardes voldoen. “Eerstens moet die gebruik van die bates in openbare belang wees. Tweedens moet die Minister van Verdediging die gebruik van hierdie bates goedkeur in oorleg met die Minister van Finansies.”

“Die feit dat die ANC nou wil betaal vir die gebruik van die Lugmag se bates, beteken nie dat dit hulle vrywaar van die oortreding van die Verdedigingswet nie. AfriForum wil weet hoe die Minister van Verdediging kan regverdig dat hierdie reis op ’n lugmagvliegtuig enigsins in openbare belang was en ons verwag steeds antwoorde of die regte kanale gevolg is. Magashule se aankondiging dat die ANC vir die vlug gaan betaal, spreek egter boekdele,” sluit Taute af.

Soortgelyke plasings