|

AfriForum besoek Knysna ’n jaar na verwoestende brande

Vandag ’n jaar gelede is die lyke van Tony Johnston, sy vrou Madré en hul seuntjie Michael buite hul huis in die Elandskraal-omgewing in Knysna gevind.

Die gesin is deur rook oorval toe die verwoestende Knysna-brande op 7 Junie, op klein Michael se derde verjaarsdag, hul lewens geëis het. Madré was ook agt maande swanger met die egpaar se tweede kind.

Sowat 10 000 inwoners van Knysna en ander woongebiede is dakloos gelaat en drie ander lewens is ook geëis. 12 000 hektaar plantasies is ook weens dié vernietigende brande beskadig.

Die totale skade word in randwaarde op R5 miljard bereken.

AfriForum het destyds dadelik ingespring en in samewerking met Solidariteit Helpende Hand hul noodfonds uitgebrei en bystand aan slagoffers in brandgeteisterde gebiede gelewer deur verskeie benodigdhede aan te koop en te skenk.

’n Omvattende verslag en dokumentêr oor die brande, Knysna uit die As, is ook bekendgestel om slagoffers se verhale te deel.

AfriForum Trauma, ’n eenheid van dié burgerregtewaghond wat op trauma-ontlonting, -berading en –ondersteuning fokus, het ook berading aan slagoffers van die brande gebied. Nantes Kelder, voorheen hoof van AfriForum Trauma, het gesê die eenheid het ook ʼn opvolgbesoek met slagoffers gehad. Dit was positief om te sien hoe sekere mense die trauma wat hulle ervaar het op ʼn positiewe manier aangepak en verwerk het.

Sedert September verlede jaar het die burgerregte-organisasie ook verskeie skenkings aan die Gaan Groen Knysna-projek gemaak, wat ten doel het om ‘n volhoubare oplossing na die brande te bied. Plaaslike takke in die Kaap het ook self inheemse bome, waaronder die Cape Ash, Waterbessie en die Outeniqua-geelhout, in die Pledge Natuurreservaat geplant.

Reint Dykema, kennisbestuurder by AfriForum, besoek Knysna vandeesweek en sal ’n video vervaardig oor die gebeure ’n jaar later. Dit sal Maandag op Forum Nuus beskikbaar wees.

Soortgelyke plasings