|

AfriForum besoek laerskole in Rustenburg as deel van teenboelieveldtog

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 22 Oktober by die Laerskool Proteapark en die Laerskool David Brink in Rustenburg besoek afgelê om bewusmaking te doen rondom afknouery in skole.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak deur afknouery in skole hok te slaan. Die doel van hierdie praatjies is om leerders te bemagtig deur hulle toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om as leiers in situasies op te tree waar afknouery plaasvind,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir juniorjeugleierskapsontwikkeling.

“Ons besef dat leerders die toekoms van die gemeenskap is. Hulle gaan grootliks bydra tot die toekomstige ontwikkeling van die dorp, en daarom het ons gevoel dat dit ’n prioriteit is om die teenboelieveldtog in Rustenburg se skole te loods,” sê Petrus Coetzee, distrikskoördineerder vir Marico.

“Boeliegedrag is ’n groot probleem in ons samelewing en dit is iets wat altyd daar sal wees. Daarom is dit noodsaaklik om ons kinders met die nodige vaardighede toe te rus. Ons het ook die teenboelieveldtog in Rustenburg geloods om te verseker dat die omstandighede waarin die kinders funksioneer, so gesond as moontlik is,” sluit Coetzee af.

Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting en laai ook AfriForum se teenboeliegids gratis hiér af.

Soortgelyke plasings