|

AfriForum besoek Lettie Fouché Skool in Bloemfontein met Besigheidsbytjies-entrepreneursopleiding

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Besigheidsbytjiesspan het op 17 Mei by die Lettie Fouché Skool in Bloemfontein besoek afgelê as deel van hierdie aanlyn entrepreneurskompetisie se bemarkingstoer en entrepreneursopleiding.

AfriForum het reeds in 2019 die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie met groot sukses aangepak. Die kompetisie is intussen uitgebrei deur voorsiening te maak vir hoërskoolleerders wat ’n passie en kop het vir besigheid. Hierdie jaar spog dié kompetisie met twee splinternuwe kategorieë, naamlik die AfriForum Wêreldwyd-kategorie (vir Suid-Afrikaners in die buiteland) en die Saai-kategorie (entrepreneurs wat ’n liefde het vir landbou).

“AfriForum glo die Besigheidsbytjies-kompetisie sal leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul unieke en innoverende idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms, en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir Jeugleierskap.

“Nadat AfriForum Sakenetwerk in 2017 die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie begin het, het ons gesien dat daar ook kinders is wat graag wil deelneem en hulle entrepreneursvaardighede ten toon wil stel. Dit is nou die vierde jaar wat ons die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie aanbied en dit is verblydend om te sien hoe die belangstelling jaarliks vermeerder en dat kinders ook raaksien hoe belangrik hulle ondernemings vir die ekonomie van Suid-Afrika is,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

“Leerders van die Lettie Fouche Skool se Arbeidsfase was geïnspireer deur AfriForum se Besigheidsbytjies-entrepreneursopleiding. Tania (Scheepers) en Leandie het die leerders leiding gegee oor hoe ’n mens jou eie besigheid kan begin en die moontlike struikelblokke is ook aangeraak. Die leerders het met ’n klomp idees vorendag gekom wat hulle kan inskryf vir hierdie jaar se kompetisie. Ons sien uit om almal se besighede te sien. Dankie, AfriForum,” sê Ilze van Zyl, onderwyseres by die Lettie Fouché Skool.

Leerders, ouers en onderwysers kan www.besigheidsbytjies.co.za besoek vir meer inligting of om in te skryf vir dié kompetisie. Aanlyn inskrywings is reeds oop en sluit 11 Oktober 2022 en daar is ook ’n kontantprys vir die skool met die meeste inskrywings. Stuur gerus ’n e-pos na besigheidsbytjies@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings