|

AfriForum bespreek en bekyk vordering wat in Parys gemaak is

AfriForum het gister (18 September) met verteenwoordigers van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit vergader oor die stand van sake op Parys en die vordering wat gemaak is om die dorp se veelvoudige diensleweringsprobleme die hoof te bied. Die munisipaliteit het hiertydens ingestem om ’n direkte kommunikasielyn te hê en tweeweeklikse vergaderings met gemeenskapsverteenwoordigers, soos AfriForum, te hou waartydens diensleweringskwessies geopper en bespreek sal word. Die organisasies Metsi Pompong en Save Ngwathe sal ook aan hierdie vergaderings deelneem en saam met AfriForum met die munisipaliteit in gesprek tree oor enige probleme.

Die burgerregteorganisasie het ook die watersuiweringswerke saam met die nuutaangestelde munisipale bestuurder, dr. Futhuli Mothamaha, besoek. ’n Kontrakteur is tans in die proses om die opvangbakke, vanwaar die water na die gemeenskap gepomp word, skoon te maak. Die reservoirs het egter ’n dik laag afsaksels op, wat tans per hand met emmers verwyder word. Dis ’n tydsame proses wat veroorsaak dat die water in sommige krane nie skoon loop nie.

Terwyl dié proses aan die gang is, het die munisipaliteit egter onderneem om dringend aansoek te doen by Eskom om ’n direkte kragtoevoerlyn na die waterwerke te lê sodat kragonderbrekings nie ’n invloed op waterverskaffing het nie. Die plaaslike AfriForum-tak gaan die munisipaliteit in hierdie verband bystaan.

Volgens Schalk Burger, voorsitter van die AfriForum-tak in Parys, is daar uiteindelik kundige mense aan die stuur van die waterwerke, wat beteken dat die watersituasie op die dorp ten goede sal begin verander. “Daar lê nog ’n lang pad voor voordat Parys se waterprobleme ten volle opgelos is, maar vir die eerste keer kan die gemeenskap hoop op ’n beter toekoms,” sê Burger.

Die munisipaliteit het ook tydens die vergadering daarop gewys dat:

  • hy besig is om die kostestudie wat by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) uitstaande is, op te stel. Verdere kommunikasie oor die kragtariefverhoging wat nie gehef moes word nie, sal binnekort volg. AfriForum sal die munisipaliteit in hierdie verband bystaan; en
  • daar ’n vergadering met die relevante amptenare by die munisipaliteit gereël sal word sodat die laaghangende elektrisiteitskabels dringend herstel word en dat die kragonderbrekings wat deur kortsluitings veroorsaak word verminder kan word. Die gebreekte straatligte op die dorp sal ook hiertydens bespreek word.

“Hierdie vergadering was die eerste keer wat AfriForum met die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit vergader het en tevrede was met die vordering wat gemaak is, asook die pad vorentoe. Dit lyk werklik of die nuwe munisipale bestuurder dit sy taak maak om veral die watersituasie in Parys ten goede om te keer. Dis waar dat die gemeenskap al vuisvoos is, maar die munisipaliteit werk nou saam met AfriForum en ander gemeenskapsorganisasies om die probleme die hoof te bied,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Hoewel AfriForum hoopvol is dat daar eindelik genoegsame aandag aan die diensleweringskwessies op Parys gegee gaan word, sê Corné Cronjé, bestuurder van gemeenskapstrukture by AfriForum, dat dit slegs suksesvol gedoen gaan word as die gemeenskap help om van dit ’n sukses te maak. “As jy ’n waterlek sien, meld dit aan. As jy sien riool word onregmatig gestort, meld dit aan. Ons is die oë en ore op die grond en saam kan Parys gou weer in ’n vooraanstaande toeristebestemming omskep word,” sê Cronjé. “AfriForum sal steeds sy rol as waghond speel en druk toepas op die munisipaliteit om hul verpligtinge aan die gemeenskap na te kom.”

Kontak Burger by 082 653 4281 om by die AfriForum-tak op Parys betrokke te raak.

Soortgelyke plasings