AfriForum bestee R22 000 aan droogtehulp


Die burgerregte-organisasie AfriForum het die afgelope week R22 000 bestee om droogtehulp aan boere in die Waterberg-distrik te lewer deur vragmotors te huur om voer na die verskillende gebiede aan te ry en af te lewer. Die Waterberg-droogtehulpprojek is in samewerking met Boere in Nood geloods om boere by te staan wat weivelde vir vee en wild verloor het. Die boere van Afguns en Ant’s Hill het onlangs voer ontvang, terwyl Baviaanskloof komende week aan die beurt is.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Soutpansberg, is dié drie gebiede besonder swaar deur die droogte geraak en was dit die laaste gebiede in die streek wat nog geen ondersteuning ontvang het nie. “Die groot stryd is egter steeds nie gewonne nie – al het ons projek reeds groot areas gehelp wat onder droogte gebuk gaan, voel dit soos ’n druppel aan die emmer. Die geskenkte voer is bloot nie genoeg om die boere te onderhou totdat die weiding ten volle herstel het nie.”
AfriForum het ook R10 000 uit sy droogtefonds beskikbaar gestel om ’n grasveld te laat sny wat ongeveer 200 bale voer sal lewer en aan boere in die omliggende gebiede gestuur sal word. Grobbelaar voeg by dat hulle dringend hulp benodig om dié bale te vervoer en in noodgebiede af te lewer. “Dit is baie duur om die bale te vervoer en daarom doen ons ’n beroep op die publiek om ons met enige hulp of skenkings te ondersteun. Ons is baie dankbaar vir die voerskenkings wat ons reeds van boere ontvang het.”

Mense kan hierdie inisiatief ondersteun deur –

  • voer te skenk;
  • vragmotors beskikbaar te stel om die bale voer na die verkillende gebiede te vervoer;
  • die woord “Droogtehulp” na 38310 te SMS om R10 te skenk; of
  • ’n donasie aan AfriForum se droogtefonds te maak, wat gebruik sal word om voer aan te koop en aflewering te reël.

Gebruik die volgende bankbesonderhede indien jy ’n donasie wil maak:
Rekeninghouer: AfriForum NPC
Bank: FNB
Rekeningnommer: 623 4989 9398
Tak: Centurion
Takkode: 261 550
Verwysing: Waterberg-droogtehulp
Skakel Jaco Grobbelaar by 081 216 9570 of Tommie Klopper by 062 300 2308 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings