AfriForum beteken PAIA-aansoek op Bakwena-tolhekgroep oor beweerde diskriminasie


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wetno. 2 van 2000) (PAIA) gebring om die N1- en N4-Bakwena-tolhekgroep te verplig om inligting bekend te maak oor die besluit om korting aan sekere gemeenskappe toe te staan vir die gereelde gebruik van die Bakwena-tolhekke op die N1 en N4.
Dít volg nadat AfriForum se regspan ’n brief aan die Bakwena-groep gestuur het wat binne sewe dae vanaf ontvangs van dié brief inligting in hierdie verband versoek. Die Bakwena-groep het egter nie gereageer nie.
AfriForum se PAIA-aansoek versoek die volgende inligting:

  1. ’n Afskrif van die konsessiekontrak wat Bakwena en Sanral 12 jaar gelede toe die N1- en N4-roetes gebou is, onderteken het;
  2. Die tolgeld waarop ooreengekom is by die ondertekening van die kontrak, soos per voorafbepaalde regulasies wat deur Sanral ingestel is;
  3. Die regulasies soos bepaal in die kontrak wat voorsiening maak vir die toekenning van ’n korting aan kwalifiserende kliënte in bepaalde geografiese gebiede; en
  4. Die kriteria waarvolgens die omvang van die korting bepaal word.

“Dit is onaanvaarbaar en dui op diskriminasie, omdat slegs sekere gemeenskappe die voordeel van hierdie korting mag geniet. Bakwena stipuleer duidelik in ’n dokument dat slegs gemeenskappe van Hammanskraal en Themba vir korting op die N1 kwalifiseer,” sê Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord.

Soortgelyke plasings