AfriForum betoog by hofverrigtinge teen dubbele standaarde oor rasvoorvalle


Lede van die burgerregte-organisasie AfriForum het vanoggend buite die Pretoria-Noordse landdroshof teen die dubbele standaarde betoog waarmee rasvoorvalle in Suid-Afrika hanteer word.
Dié dubbele standaarde behels volgens AfriForum dat wit-op-swart-aanvalle deurlopend aan die groot klok gehang word, terwyl swart-op-wit-aanvalle grootliks geïgnoreer word. Die betoging val saam met die verskyning van twee verdagtes wat Carel Kruger aan die begin van Augustus vanjaar in die Montana-omgewing gewelddadig met ’n baksteen aangeval het. Dié aanval het enkele dae ná die KFC-voorval – óók in die Montana-omgewing – plaasgevind.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het sowel die aanval op Kruger as ’n ander geval in die Montana-omgewing toe die ongewapende Carine van Staden in ’n padwoedevoorval geskiet is geensins dieselfde openbare aandag en veroordeling as die KFC-voorval ontvang nie. “Ongelukkig bestaan daar dubbele standaarde rakende die hantering van voorvalle waarby ras betrokke is. Wanneer die slagoffer swart en die aanvaller wit is, word die saak aan die groot klok gehang, terwyl sake soos dié van Kruger en Van Staden grootliks geïgnoreer word,” sê Kriel verder.
Kriel wys daarop dat AfriForum alle voorvalle van geweld veroordeel – ongeag die ras van die slagoffer of aanvaller.

“AfriForum het die KFC-voorval soos baie ander instellings veroordeel, maar wag tot vandag toe dat die minister van polisie, die meerderheid van die media en die sogenaamde ‘black twitter’ die Kruger- en Van Staden-aanval met dieselfde ywer veroordeel as waarmee die geval met die KFC-voorval veroordeel is,” voeg Kriel by.
“Vir solank as wat die samelewing onwillig is om alle voorvalle waarby ras betrokke is oor dieselfde kam te skeer, lewer dit geen bydrae tot die verbetering van rasseverhoudinge nie. Inteendeel: dubbele standaarde veroorsaak verdere polarisasie. Daarom sal AfriForum voortaan deurlopend ʼn beroep doen vir die bevordering van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe,” sluit Kriel af.

Soortgelyke plasings