|

AfriForum betrokke by internasionale regsgeskiedenis

Internasionale regsgeskiedenis is vanoggend in Kaapstad gemaak waar die eerste eksekusieveiling van ‘n Zimbabwiese eiendom in Suid-Afrika plaasvind het as die regstreekse gevolg van pres. Robert Mugabe se menseregtevergrype in die land.

AfriForum het die afgelope ses jaar ‘n groep Zimbabwiese boere suksesvol bygestaan om ‘n 2008-bevinding van die SAOG-tribunaal wat Mugabe se grondgrype onwettig verklaar, in Suid-Afrika af te dwing. Na ‘n vyfjaarlange regstryd is die eiendom van die Zimbabwiese regering in Salisburyweg 28, Kenilworth, Kaapstad opgeveil omdat die Zimbabwe-regering nagelaat het om kostebevele van die hooggeregshof, die appèlhof en die grondwetlike hof te eerbiedig.

Die eiendom is deur mnr. Athur Tsinitakotoulos vir R3,7 miljoen gekoop.

AfriForum het ses jaar gelede begin om Zimbabwiese boere en menseregte-aktiviste in die land by te staan met ‘n regstryd nadat Mugabe geweier het om gehoor te gee aan ‘n bevel van die SAOG-tribunaal dat sy grondgrype onwettig en rassisties is. Die bevel is in die hooggeregshof in Pretoria geregistreer en AfriForum se prokureurs het vir die eerste keer in Maart 2010 beslag gelê op die eiendom in Kaapstad.

Na onsuksesvolle pogings van die Zimbabwe-regering in die hooggeregshof, die appèlhof en die grondwetlike hof om die registrasie van die uitspraak in Suid-Afrika om te keer, het die balju vanoggend voort gegaan om die eiendom op te veil.

Die aard van die litigasie tans het ten doel om ‘n burgerlike sanksieveldtog teen menseregtevergrype in Zimbabwe op verskeie terreine aan die gang te hou.

Met die veiling is dit die eerste keer in die geskiedenis dat ‘n uitspraak van ‘n menseregtehof in Afrika lei tot die verkoping van ‘n eiendom van die land wat hom skuldig gemaak het aan menseregtevergrype, op ‘n openbare veiling deur die balju.

AfriForum staan die boere ook by in ʼn afsonderlike regsgeding teen pres. Jacob Zuma en sy ministers van justisie en van internasionale verhoudinge, weens die Suid-Afrikaanse regering se medepligtigheid aan die onwettige proses wat gelei het tot die opskorting van die SAOG-tribunaal se mag om oor menseregtevergrype teen burgers van lidstate te beslis. Dié saak sal teen vroeg volgende jaar in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het gesê die veiling is ’n groot oorwinning en waarskynlik die eerste keer in die geskiedenis wat menseregte-litigasie tot so ’n verkoping gelei het.

Die geld sal volgens Spies nou deur die balju proporsioneel aan die skuldeisers verdeel word.

Spies voorsien dat daar in die toekoms nog soortgelyke sake sal wees.

Soortgelyke plasings