|

AfriForum beveilig infrastruktuur tydens munisipale staking

AfriForum het verlede week gehelp om verskeie sleutelpunte in die Tshwane-metro te beveilig te midde van stakings deur munisipale werkers oor ’n loondispuut.

Lede van AfriForum se Oos-Moot- en Wes-Moot-buurtwag het in samewerking met die organisasie se personeel die sleutelpunte beveilig deur sigbaarheid te handhaaf en van tegnologie gebruik te maak. Hulle het ook deurgaans bystand aan die Tshwane-metropolisie gelewer.

Stakende werkers het op 27 en 28 Julie die Capital Park- en Rosslyn-depot, asook ander munisipale diensleweringsfasiliteite probeer betree. Die Tshwane-metropolisie berig dat die werkers probeer het om water- en kragtoevoer te saboteer.

Die Tshwane-metro het intussen ’n interdik teen die stakende werkers – wat by Samwu geaffilieer is – verkry om onder meer te verhoed dat verkeer in die middestad ontwrig word.

AfriForum het in samewerking met die Tshwane-metropolisie die situasie by die Capital Park-depot twee dae lank fyn dopgehou om te verseker dat die kragtoevoer nie deur die stakers se optrede geraak word nie.

“Hierdie was ’n toonbeeld van hoe AfriForum se struktuur in die praktyk werk. Die kombinasie van veerkragtigheid en kennis op grondvlak, gekombineer met die operasionele kennis en logistieke vermoëns van AfriForum se personeel, het tot gevolg gehad dat ’n operasie baie vinnig uitgerol kon word en binne die raamwerk van die wet suksesvol voltooi kon word,” sê Flippie Schutte, ’n lid van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag.

“Daar waar die staat tekortskiet sal ons self alles in ons vermoë doen om die krag aan te hou en seker te maak dat inwoners ’n veilige lewensruimte het sodat sake normaal kan voortgaan. In hierdie taak staan ons reg om met enige rolspeler saam te werk,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die noordstreek.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke: Laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot) of SMS “Noordstreek” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings