|

AfriForum bevorder moedertaalonderrig deur nuwe Afrikaanse produksie

Die burgerregte-organisasie bied vanjaar as deel van hul SLIM-veldtog (Studeer en Leer In jou Moedertaal) om moedertaalonderrig te bevorder, ʼn verhoogproduksie getiteld Slimkoppe aan.

Dit het ten doel om die waarde en voordele van moedertaalonderrig uit te lig, asook hoe dit ’n mens in jou beroepslewe toerus en nuwe deure open.

Dié verhoogproduksie is hoofsaaklik op gr. 10 – gr. 12-leerlinge gemik en akteurs soos Karin Wessels, Botha Enslin, Pierre Breytenbach en Francois Viljoen is in die hoofrolle te sien. Die akteur en dramaturg Chris Vorster het dié unieke en uiters vermaaklike verhoogproduksie geskryf en die regie behartig.

“Die produksie gaan leerlinge nie net laat skaterlag nie, maar hulle ook met ʼn waardevolle boodskap laat,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwysveldtogte.

AfriForum het die afgelope twee jaar as deel van hul SLIM-veldtog bewusmakingsvideo’s oor moedertaalonderrig vervaardig. Vanjaar is op ʼn verhoogproduksie besluit om die boodskap uit te dra en met skoliere te deel.

“Ons wou op ʼn meer komiese manier ons boodskap aan jongmense oordra, sonder om prekerig te klink,” sê Bloem.

Sy meen hoërskoolleerlinge besef nie altyd onder watter geweldige druk Afrikaans as akademiese taal is nie. “Die idee is dat kinders moet besef dat om Afrikaans as onderrigtaal te kies, nie hul toekoms sal kelder of hulle loopbaankeuses sal inperk nie. Hulle mag op Afrikaans as onderrigtaal aandring aangesien dit ook hul grondwetlike reg is.”

Breytenbach het aan Forum Nuus gesê dat hy besluit het om deel te wees van die produksie omdat die geleenthede om in Afrikaanse verhoogproduksies op te tree, baie skaars word.

Hy het voorts gesê dat die bewusmaking wat die produksie bied, die eerste stap is om gesprekke rondom moedertaalonderrig aan die gang te sit onder skoolkinders. “Ons wil hê dat kinders met mekaar moet begin praat en vrae vra rondom moedertaalonderrig. Afrikaans is nie dood nie, jy het nog die geleentheid om te besluit of jy daarin wil leer.”

Wessels het op haar beurt gesê sy wil hê kinders moet besef dat dit jou nie benede ander maak as jy nie besluit om in Engels te studeer nie.

“As kinders saamstaan en besluit hulle wil Afrikaans stook, dan kan hulle. Om van ʼn Afrikaanse terminologie-basis in matriek oor te skakel na ʼn Engelse akademiese omgewing, is vir party kinders ʼn groot sprong en aanpassing. Dit sal hartseer wees om te sien dat taal jou selfvertroue in jou vakmanskap beïnvloed en jou as student huiwerig maak.”

Viljoen hoop die vertoning sal kinders motiveer om meer te leer oor hul eie taal. “My ma is ʼn onderwyseres by ʼn opvoedkundige sentrum en sy ervaar eerstehands die verval van Afrikaans onder kinders. Ek hoop dat kinders moeite sal doen na die produksie om meer te leer en hul taal te verbeter. Ons het die hulpbronne en vaardighede om ons taal te help ontwikkel en te groei,” meen Viljoen.

Die verhoogproduksie is vanaf 1 – 12 Augustus 2016 gratis by skole regoor Gauteng te sien.

Soortgelyke plasings