|

AFRIFORUM BEVRAAGTEKEN AANSTELLING VAN KUBAANSE INGENIEURS

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n brief aan Lindiwe Sisulu, Minister van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie, gestuur waarin die aanstelling van 24 Kubaanse ingenieurs bevraagteken word. Dit volg nadat dié ingenieurs op 19 April 2021 aangestel is om die Departement van Water en Sanitasie (DWS) te help om probleme met waterinfrastruktuur op te los en om hul kennis te deel.

AfriForum is van mening dat hierdie aanstelling ’n groot vermorsing van belastingbetalers se geld is aangesien Suid-Afrika oor ervare, gekwalifiseerde ingenieurs en spesialiste beskik wat meer as bekwaam is om die departement te ondersteun. Die organisasie versoek in die brief dat die Kubaanse ingenieurs se ervaring en kwalifikasies bekendgemaak moet word, dat ’n verslag wat die water- en infrastruktuurprobleme uiteensit beskikbaar gemaak word en dat die departement ook ’n aksieplan voorsien van waar die ingenieurs gaan werk.

Die DWS het in 2017 ongeveer R12 miljoen bestee om Kubaanse ingenieurs aan te stel en het nooit ’n verslag bekendgemaak oor die werk wat verrig is nie. AfriForum het ook in die brief versoek dat ’n omvattende finansiële struktuur van wat dit die belastingbetaler gaan kos, bekendgemaak word.

“AfriForum het male sonder tal reeds probeer om ’n vergadering met die minister te belê oor die organisasie se jaarlikse blou-en-groendruppelverslag waarin verskeie waterprobleme onder die loep geneem word. Ons beskik ook oor ’n lys ingenieurs en spesialiste wat afgetree is en ook mense wat steeds in diens is, wat meer as bereid is om die departement te help om hierdie probleme op te los. Dit is onaanvaarbaar om Kubaanse ingenieurs aan te stel terwyl Suid-Afrika bekwame en gekwalifiseerde ingenieurs het,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

Soortgelyke plasings