|

AfriForum bevraagteken persombudsman se bevinding oor Huffpost-blog

Die appèlpaneel van die persraad het vandag beslis dat die blog getiteld: Could it be time to deny white men the franchise?, waarin aangevoer is dat wit mans in Suid-Afrika van hul stemreg ontneem moet word, nie op haatspraak neerkom nie.

Dit volg nadat AfriForum HuffPost SA en sy voormalige hoofredakteur, Verashni Pillay, in April by die persombudsman aangekla het vir die publikasie en verdediging van dié artikel.

Johan Retief, persombudsman, het toe beslis dat HuffPost onvoorwaardelike verskoning moet vra vir die publisering van dié artikel. In die artikel word ook aangevoer dat wit mans blameer moet word vir ’n reeks van politieke gebeure, waaronder Brexit, en die feit dat die DA in vier van Suid-Afrika se stede regeer.

Pillay het ook by Media24 bedank en om verlof tot appèl aansoek gedoen, waarna dit toegestaan is om die bevindings teen te staan. Haar appèl is toegespits op verskillende klousules van die perskode, naamlik diskriminasie en haatspraak, beskermde kommentaar, geloofwaardigheid en openbare vertroue, asook waardigheid en reputasie.

Ná hierdie bevindings het HuffPost South Africa die verpligte verskoning aangebied, maar Bernard Ngoepe, voorsitter van die appèlpaneel en afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, en sy paneel het Retief se beslissing ter syde gestel.

Hulle het bevind dat die blog nie wit mans verneder nie en ook nie haat of haatspraak teenoor hulle aanblaas nie. Die paneel meen daar moet plek vir “robuuste debat” in Suid-Afrika wees. Hulle het luidens mediaberigte gesê dat die blog sekere mense kon irriteer of pla, dat om dit as haatspraak te klassifiseer “té ver van ’n sprong is om te maak.”

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die organisasie sal die uitspraak bestudeer om oor moontlike verdere optrede te besin, maar dat daar alreeds sekere ooglopende probleme met die uitspraak is.

Volgens Roets is die toets vir haatspraak nie behoorlik toegepas nie. “Die appèlkomitee het bevind dat die artikel nie op haatspraak neerkom nie, onder meer omdat die kans dat wit mans van hul stemreg gestroop sal word te skraal is. Die waarskynlikheid dat so iets in die praktyk sal gebeur, is nie deel van die toets vir haatspraak is nie.”

Hy sê voorts dat die appèlkomitee bevind dat die artikel nie op diskriminasie teen wit mans neerkom nie, omdat wit mans as’t ware in die artikel as “superhuman, powerful and dominant” uitgebeeld word en dat daar dus nie op ʼn neerhalende wyse na wit mans verwys word nie.

Volgens Roets word wit mans nie bloot as bomenslik uitgebeeld nie, maar eerder as onmenslik in hul vermoë en vasberadenheid om ander mense te onderdruk. “Dit word allermins as ’n kompliment bedoel.”

Daar word ook in die artikel aangevoer dat wit mans se eiendom van hulle ontneem moet word, maar volgens Roets word dit nie behoorlik in die uitspraak oorweeg nie.

Roets het verder gesê dat Pillay se regsverteenwoordiger, adv. Ben Winks, gedurende die verhoor aangevoer het dat wit mans inderdaad “disproporsionele mag” het en dat dit lyk of die uitspraak op hierdie argument steun.

“Hierdie suggestie is besonders kommerwekkend. Die Jode in Duitsland, die Armeniërs en Grieke in Anatolië, die Moslems in Serwië en die Tutsi’s in Rwanda was almal minderheidsgroepe wat oor die algemeen meer welvarend as die meerderheid was. Hierdie groepe was ook almal die slagoffers van volksmoord of etniese uitwissing, onder meer omdat hulle op grond van hulle welvaart, oftewel hul sogenaamde ‘disproporsionele mag’, geteiken was.”

Roets meen die geskiedenis het bewys dat minderheidsgroepe wat meer welvarend as die meerderheid is, juis die groepe is wat in besonder beskerm moet word.

“Om aan te voer dat wit mans nie rede het om te kla nie, omdat hulle te veel mag het, is om aan te voer dat die meeste slagoffers van volksmoord of etniese uitwissing in die afgelope eeu, voor daardie uitwissing ook nie rede gehad het om te kla oor die feit dat hul in die openbaar geteiken word nie.”

Pillay het vandag op sosiale media voorgestel dat Retief verantwoordbaar gehou moet word vir die aanvanklike uitspraak en het Winks bedank dat hy haar saak pro bono behartig het.

Roets het gesê Pillay se suggestie dat daar teen Retief opgetree moet word, versterk die indruk dat sy ’n vooroordeel teen wit mans het.

Soortgelyke plasings