|

AfriForum: Bewaar jou erfenis

Jeugvleuels van plaaslike AfriForum-takke gaan vandeesmaand woeker en Erfenisdag vier deur verskeie erfenisprojekte in hul dorpe aan te pak.

Van dié projekte sluit onder meer die skoonmaak van erfenisterreine en begraafplase asook die opknap van monumente en dorpsingange in.

In Piet Retief gaan die jeug die Van Riebeeck-park, asook die twee monumente wat in dié park op Van Riebeeckdag (6 April) in 1952 opgerig is, skoonmaak. In Delmas gaan die Groot Trek-monument, wat tans toegegroei en vervalle is, skoongemaak word en die storie agter die monument aan die gemeenskap vertel word tydens ʼn byeenkoms.

In Kuruman gaan die jeugvleuel hande vat met die munisipaliteit en die Oog, wat ʼn plaaslike varswaterbron-gebied is, herstel. Dit is tans toegegroei en met rommel bestrooi.

Ander soortgelyke aksies sal ook in Kempton Park, Kimberley, Vaalharts, Orania, Tzaneen, Nylstroom, Marble Hall, Bethlehem en Bloemfontein plaasvind.
Volgens Marlé Odendaal, plaaslike jeugkoördineerder by AfriForum, het hierdie projekte ten doel om vir jong mense die geleentheid te gee om meer te leer oor die geskiedenis van hul dorpe en erfenisterreine.

“Ons wil hê dat dorpe se geskiedkundige verhale weer vertel moet word en dat ʼn gevoel van trots onder jongmense gekweek word oor hul herkoms. Terselfdertyd skep dit vir hulle die geleentheid om selfdoenprojekte aan te pak.”
Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is dit belangrik om een dag uit die jaar op erfenis te fokus omdat dit ʼn terrein is wat maklik nagelaat en vergeet word.

“Dit is hartseer dat erfenis die terrein is wat die meeste afgeskeep word want só baie dinge gaan verlore wat onvervangbaar is en wat oor geslagte heen nog betekenis het.”

Sy sê ook dat dit belangrik is vir mense om te besef watter stempel daar op die wêreld uitgeoefen word deur ʼn straat te benoem of ʼn monument op te rig, omdat dit toekomstige geslagte gaan beïnvloed.

Volgens Bailey is dit ook belangrik om nie na erfenis deur jou eie perspektief te kyk nie, maar eerder deur dié van toekomstige geslagte. “Jy is die tussentydse bewaarder van jou erfenis, nie die eienaar daarvan nie,” meen sy.

AfriForum tree ook vanjaar op as ʼn borg by die Voortrekkermonument se Erfenisfees. Dit beloof om ʼn dag vol interessante kultuuraktiwiteite, tradisionele musiek, boeresport en kosstalletjies te wees. Volgens Bailey is dit ʼn lekker Afrikaanse gesinsfees wat families ook meer sal leer oor hul erfenis.

Die Voortrekkers vier ook vanjaar hul 85ste bestaansjaar en gaan ook die dag vermaak verskaf met verskeie boeresport wat aangebied word.

Soortgelyke plasings