AfriForum bied hulp aan Coligny-twee na ooggetuie erken hy het gelieg


Die burgerregte-organisasie AfriForum het besluit om aan te bied om regs- en ander bystand aan Pieter Doorewaard en Phillip Schutte van Coligny te verleen. Dit volg nadat die enigste ooggetuie in die moordsaak teen hulle, Bonakele Pakisi, erken het dat hy in die hof gelieg het tydens sy getuienis dat hy gesien het hoe Doorewaard en Schutte ’n tiener, Matlhomola Moshoeu, vermoor. Die Sondagkoerant Rapport het vandag onthul dat Pakisi teenoor twee persone gebieg het dat hy in die hof gelieg het en dat sy bekentenis op band opgeneem is. AfriForum het die aanbod om bystand te verleen reeds aan Doorewaard en Schutte se regsverteenwoordiger gemaak en sal in die komende week die gesprek verder voer.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wil sy organisasie benewens die hulp aan Doorewaard en Schutte, ook toesien dat Pakisi strafregtelik vervolg sal word vir die meineed wat hy gepleeg het. Volgens Kriel is dit belangrik dat diegene wat leuens verkondig om rassespanning te skep en valslik ’n wolk van “rassisme” oor onskuldige mense se koppe laat hang, tot verantwoording geroep moet word.

“Soos Doorewaard en Schutte se lewens deur leuens vernietig is, het ons pas ook weer in Schweizer-Reneke gesien hoe rasse-opstokers ’n bekwame onderwyseres, Elana Barkhuizen, se lewe met leuens en wanvoorstellings ontwrig het. Die tyd het aangebreek dat ’n voorbeeld van alle leuenaars en rasse-opstokers gemaak word,” voeg Kriel by.

Soortgelyke plasings