|

AfriForum bied opleiding aan 139 gemeenskapslede in KwaZulu-Natal

AfriForum het die afgelope week opleiding in regsaspekte aangebied aan ongeveer 139 gemeenskapslede in vier dorpe in die noorde van KwaZulu-Natal. Die opleiding is in Newcastle, Vryheid, Hluhluwe en Paulpietersburg aangebied.

“Dit was ’n voorreg om hierdie opleiding aan te bied en die vrae te beantwoord wat tydens die opleidingsessies gevra is. Ons lede moet gemaklik raak met die wetlike vereistes om reg te kan optree in noodsituasies of waar hulle optree as plaas- en buurtwaglede,”  sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en risiko-bestuurder.

“Regsaspekte is een van die 12 modules wat AfriForum aan sy plaas- en buurtwagte bied om hulle te bemagtig op hierdie terrein om korrek op te tree tydens veiligheidsaktiwiteite,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder in KwaZulu-Natal.

AfriForum gaan in die toekoms weer opleidingsgeleenthede soos hierdie aanbied en sal vroegtydig die nodige inligting aan takke en buurtwagte deurgee.

“Ons wil gemeenskappe aanmoedig om deel te word van AfriForum se verskeie strukture om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak,” sluit Van Aswegen af.

Soortgelyke plasings