|

AfriForum blus lapa-brand in Germiston voordat huis heeltemal verswelg word

AfriForum se brandspan in Germiston het onlangs verhoed dat ’n huis wat in Partridgestraat in Elspark, Germiston aan die brand geraak het heeltemal deur vlamme verswelg word. Dié AfriForum-brandspan het in samewerking met private veiligheidsmaatskappye op die brand gereageer en verhoed dat dit na ander dele van die huis versprei.

Die brand het die oggend van 13 Julie buite die huis by die lapa uitgebreek en gedreig om na ander dele van die huis te versprei. AfriForum se brandspan het met die private veiligheidsmaatskappye op die toneel gekoördineer en daarin geslaag om vinnig die brand onder beheer te bring sodat dit nie verder versprei nie. Die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se brandweer het met sy aankoms op die toneel gehelp om die brand volkome te blus. Die drie inwoners van die huis is ongedeerd.

“Die professionaliteit waarmee AfriForum se brandspan en die private veiligheidsmaatskappye die situasie hanteer het, beklemtoon die belangrikheid van samewerking in noodsituasies. Hul gesamentlike pogings het verseker dat die brand nie na die hoofgebou versprei nie. Die skade is op die ou end aansienlik verminder,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Sedert die stigting van AfriForum se Germiston-brandspan vroeër vanjaar is verskeie noodgevalle suksesvol hanteer. Hierdie jongste voorval beklemtoon opnuut die waarde van hierdie span se teenwoordigheid en gereedheid in die gemeenskap.

“Ons is dankbaar vir die vinnige reaksie van die brandspan en die bereidwilligheid van die lede om hulself in gevaar te stel om ’n verskil in die gemeenskap te maak. AfriForum sal voortgaan om hierdie gemeenskap te ondersteun en te beveilig, veral in tye van nood,” sluit Ferreira af.

Die Germiston-tak moedig inwoners aan om betrokke te raak by die tak en sy plaaslike veiligheidstrukture om sodoende die veiligheid van die gemeenskap te help bevorder. Samewerking tussen alle belanghebbendes is van kardinale belang om ’n veilige omgewing te verseker. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings