|

AfriForum bring aansoek om Ramaphosa voor die Zondo-kommissie te kruisondervra oor kaderontplooiing

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n formele aansoek by die Zondo-kommissie oor staatskaping ingedien ingevolge waarvan ’n bevinding gevra word dat pres. Cyril Ramaphosa gedagvaar word om voor die kommissie te verskyn.

AfriForum vra spesifiek dat pres. Ramaphosa oor die ANC se kaderontplooiingsbeleid ondervra word en versoek ook dat AfriForum die geleentheid gegun word om voorleggings in dié verband aan die kommissie te lewer en self ook die president te kruisondervra.

Die aansoek spruit uit die feit dat pres. Ramaphosa van 2013 tot 2016 die voorsitter van die ANC se komitee oor kaderontplooiing was. Gedurende hierdie tyd is verskeie individue wat vandag van korrupsie en staatskaping beskuldig word, op grond van hulle lojaliteit teenoor die ANC in sleutelposisies aangestel.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, verduidelik dat die ANC se kaderontplooiingsbeleid waarskynlik die grootste bydraende faktor tot korrupsie en staatskaping is.

“Die ANC is uitgesproke oor sy benadering dat lojaliteit aan die party ’n bepalende faktor is wanneer dit by aanstellings in sleutelposisies in die regering kom. Dit dra oënskynlik selfs meer gewig as meriete en die vermoë om die werk te doen. Waaroor daar egter geheimsinnigheid heers, is presies wat hierdie komitee se doen en late is, asook watter individue op grond van hulle lojaliteit aan die party in sleutelposisies aangestel is,” sê Roets. Hy voeg by dat hierdie beleid nie slegs oor ontplooiings in sleutelposisies gaan nie, maar ook oor die herontplooiing van partylojaliste.

Individue met betrekking tot wie AfriForum vrae aan pres. Ramaphosa wil stel, sluit die volgende in: Brian Molefe, Dudu Myeni, Pravin Gordhan, Lucky Montana, Jeff Radebe, Joseph Phungula, Sifiso Buthelezi, Thuli Madonsela, Kady Muteba, Patello Lebbaka, Francois van Eeden, Lynette Brown, Nicholas Linnel, Nhlanhla Nene en Modise Motloba.

Soortgelyke plasings