AfriForum bring spoedhobbel aan voor aftreeoord in Secunda


Die AfriForum-tak in Secunda het op 24 Oktober 2017 ’n breë spoedhobbel voor die Davies Court-aftreeoord in Helen Josephstraat in dié dorp aangebring. Bejaardes se pleidooie aan die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit het die afgelope vier jaar bloot op dowe ore geval, wat die burgerregtewaghond genoop het om in te gryp.
Volgens Nico Venter, voorsitter van die AfriForum-tak in Secunda, is die spoedhobbel breed genoeg sodat bejaardes wat van loophulpmiddels gebruik maak die pad maklik en veilig kan oorsteek. Die spoedhobbel se kostes word gesamentlik deur Davies Court en die AfriForum-tak gedra. Verder het Sibathathu Construction BK die materiaal voorsien, terwyl die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit die arbeid verskaf het.

“Die bejaarde inwoners van Davies Court maak gebruik van die winkelsentrum oorkant die pad en dit was vir hulle onveilig om hul daaglikse benodigdhede te gaan koop. Dit was vir AfriForum ’n voorreg om die inwoners met dié projek by te staan en ons bedank elke rolspeler vir hul onbaatsugtige betrokkenheid,” sê Venter.
“Die tak beplan om nog talle soortgelyke selfdoenaksies in dié dorp aan te pak en doen ’n beroep op die plaaslike gemeenskap om betrokke te raak sodat nóg meer in Secunda vermag kan word,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.

Soortgelyke plasings