|

AfriForum-buurtwag en SAPD trek vermeende motordiewe in Hermanus vas

AfriForum se Alfa-buurtwag het die SAPD in Hermanus op 22 Junie 2020 gehelp om ’n gesteelde voertuig terug te kry en vyf verdagtes vas te trek nadat ’n lid van dié buurtwag wat patrollie gery het, ’n verdagte Isuzu-bakkie gewaar het. Die lid het die bakkie agtervolg en ondertussen met die SAPD in verbinding getree.

Die SAPD het die buurtwaglid meegedeel dat die voertuig kort vantevore in Zwelihle gesteel is en dat hy die voertuig moet dophou. Die SAPD het by die buurtwaglid aangesluit en ná ’n kort jaagtog, is die verdagte voertuig in die hoofstraat van Onrusrivier vasgetrek.

Die insittende van die voertuig het bevestig dat hy deel is van ’n sindikaat wat van Philippi af gekom het om voertuie in Hermanus te steel en dat sy makkers in ’n Toyota Avanza ry. Terwyl die SAPD en die buurtwaglid nog op die toneel besig was, het die genoemde voertuig verbygery en die SAPD het die voertuig afgetrek. Die vyf verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem.

“Hierdie is ’n uitstekende voorbeeld van hoe die buurtwaglede as die oë en ore van die SAPD optree. Misdaad kan slegs met wortel en tak uitgeroei word deur goeie samewerking tussen die SAPD en die gemeenskap, waarvan buurtwagte ’n baie belangrike komponent is,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid in die suidstreek.

Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings