AfriForum-buurtwag help om drie verdagtes vas te trek


AfriForum se Standerton-buurtwag het op 20 Februarie 2019 ’n WhatsApp-boodskap ontvang oor ’n rooftog wat by die Pep-winkel in Volksrust plaasgevind het. Die buurtwag het vinnig op die boodskap gereageer en gehelp om die verdagtes op te spoor.

Die voertuig waarmee die verdagtes gevlug het – ’n blou BMW met ’n GP-nommerplaat – is tussen Standerton en Volksrust opgemerk. Jannie Kasselman van Kasselman Sekuriteit het die buurtwag en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hieroor in kennis gestel en die verdagtes is agternagesit. Drie verdagtes is uiteindelik te voet op die Langverwyl-grondpad aangekeer en deur die SAPD in hegtenis geneem.

“AfriForum se Standerton-buurtwag is beïndruk met die gemeenskap en plaaslike sekuriteitsmaatskappye, wat weereens bewys het dat hulle kan saamstaan en sodoende suksesvolle uitkomste kan deel. Sonder gemeenskapsbetrokkenheid sou dít nie moontlik gewees het nie,” sê Gerhard Moll, voorsitter van AfriForum se Standerton-buurtwag.
“Samewerking tussen verskillende veiligheidsinstansies en die SAPD is van kardinale belang – gemeenskappe kan hulself beskerm en misdaad hokslaan deur binne die raamwerk van die wet op te tree en gebiedsbeskerming toe te pas,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die Noordstreek.

Soortgelyke plasings