|

AfriForum-buurtwag help polisie met arrestasies

AfriForum se Riversdal-buurtwag het op 12 Maart in verskeie operasies hulp aan die polisie verleen, waartydens ’n aantal verdagtes in hegtenis geneem is.

Die polisie het vroegdag ’n verdagte met ’n lasbrief in hegtenis probeer neem, maar hy het hom teen arrestasie verset en gevlug.

Die buurtwaglede het die polisie in ’n uitgebreide soektog na die verdagte bygestaan. Die soektog is omstreeks 16:25 afgelas nadat die verdagte uiteindelik vasgetrek is.

’n Lid van die publiek het ’n wenk aan die buurtwag gestuur. Dit het die buurtwag in staat gestel om die verdagte met behulp van die hommeltuig te identifiseer en die protospan kon die verdagte suksesvol aankeer.

Die aand het die buurtwag in samewerking met die polisie en Korrektiewe Dienste aan ’n operasie in Melkhoutfontein, Albertinia en Riversdal deelgeneem. Gedurende die operasie is verskeie arrestasies in Albertinia en Melkhoutfontein gemaak, terwyl nog mense later die aand by kroeë in die informele nedersetting gearresteer is.

Volgens Johan Crous, voorsitter van die Hessequa-tak, kan die beveiliging van ’n gemeenskap nie in silos bedryf word nie.

“Die Riversdal-buurtwag sluit hom aan by ’n netwerk van ander AfriForum veiligheidstrukture wat hulle beywer om die polisie te ondersteun om die gemeenskap te beveilig. AfriForum glo daarin dat alle veiligheidsrolspelers moet saamwerk aan ’n gemeenskaplike doel en ons vat graag hande met die breër gemeenskap van Hessequa en omliggende gebiede om dit te beveilig,” sê Crous.

“Dis verblydend om te sien hoe ons gemeenskappe deesdae saamstaan om hul gebied teen misdadigers te beskerm. Ons is en bly eerstens verantwoordelik vir ons eie veiligheid en deur saam met die polisie te werk, kan ons die agteruitgang van die veiligheid in ons gebied hokslaan,” sê David Olivier, distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings