AfriForum-buurtwag in Herbertsdale help om dwelmhandelaar aan te keer


Die AfriForum-buurtwag in Herbertsdale het op Saterdag 17 Mei 2019 tydens die nasionale patrollie gehelp om ’n verdagte aan te keer nadat hy vermoedelik by ’n dwelmtransaksie buite Herbertsdale betrokke was.

Die buurtwag het net ná middernag in samewerking met ’n polisiereservis tussen Van Wyksdorp en Herbertsdale op ’n voertuig afgekom. Die insittende, ’n Algeriër, het geen dokumentasie by hom gehad nie en die polisie is ontbied. Die grensbeheerpolisie is daarna ontbied en het die verdagte met hul aankoms herken as ’n persoon wat by dwelmhandel betrokke is.
Geen dwelms is gevind nie, maar daar is beslag gelê op ’n onbekende bedrag geld. Daar word vermoed dat die verdagte op pad terug was ná ’n transaksie. Hy is gearresteer omdat hy nie dokumentasie by hom gehad het nie en die voertuig sou ook die volgende dag deeglik onder al die panele deursoek word.

“Die onbaatsugtige diens wat die buurtwagte aan die gemeenskap lewer, help om die polisie se hande te sterk en maak dit vir misdadigers moeilik om hul aksies uit te voer,” sê Alec Muller, voorsitter van AfriForum se Herbertsdale-buurtwag.
“In ’n wêreld waar misdaad daagliks vererger, sal ons moet betrokke raak en hande vat om ons gemeenskappe te beveilig,” sê David Olivier, AfriForum se veiligheidskoördineerder van die suidstreek.
“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en self hul veiligheid te begin prioritiseer. Ons kan nie op die staat alleenlik vertrou om na ons veiligheid om te sien nie. Raak by enige plaaslike veiligheidsinstelling in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se hoof van veiligheid vir die suidstreek.

Sluit vandag nog by AfriForum aan: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings