AfriForum-buurtwag in Hartbeesfontein ontvang vuurbestryder van Supa Ginja

’n Plaaslike besigheid in Hartbeesfontein, Supa Ginja, het ’n vuurbestryder aan die AfriForum-buurtwag in Hartbeesfontein geskenk. Dit volg nadat hulle die behoefte aan een raakgesien het, nadat die buurtwag betrokke was by die bestryding van die talle brande wat die gemeenskap die afgelope maande getref het.

Adjudant-offisier Willie Botha van Hartbeesfontein-SAPD het die inisiatief verwelkom en ook sy dank uitgespreek teenoor die AfriForum-buurtwag wat suksesvol met die Hartbeesfontein-SAPD saamwerk. Die buurtwag het ook vyf van hulle lede gestuur vir brandbestrydingsopleiding, en het dus nou vyf gekwalifiseerde brandbestryders in hul span. Sedert Augustus vanjaar het die span reeds ses brande in die omgewing suksesvol geblus.

Richard Cronjé, leier van die brandspan, sê hulle wil graag die Hartbeesfontein-brandweerdiens bystaan. “Al beteken dit net dat ons vir die brandweer ’n ekstra paar minute kan spaar, het ons in ons doel geslaag. Die gemeenskap kan dus ook die buurtwag skakel as hulle ’n brand wil aanmeld.”

“Ek wil vir Peet Naudé van Supa Ginja bedank vir hierdie reuseskenking. Die AfriForum-buurtwag in Hartbeesfontein doen baie goeie werk in die gemeenskap en hierdie vuurbestryder bemagtig hulle om nog meer vir die gemeenskap te doen,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Kontak vir Peet Naudé by 060 927 4182 om by die Hartbeesfontein-buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings