|

AfriForum-buurtwag in Krugersdorp behaal drie suksesse in twee dae

Die AfriForum-buurtwag in Krugersdorp het op 18 en 19 Oktober 2021 drie suksesse behaal in dié dorp. ’n Vermiste 16-jarige is teruggevind sowel as ’n gesteelde vragmotor en motor.

Op 18 Oktober het die buurtwag nuus ontvang van ’n 16-jarige meisie wat vermoedelik weggeloop het van die huis af Durban toe. Die buurtwag het dadelik geaktiveer en ’n vermiste persone eenheid in Durban, Renegades, gekontak om ook hulle bes te doen om die meisie op te spoor.

Renegades het die meisie op ’n bus na Pietermaritzburg opgespoor en haar na veiligheid geneem. Martin Lombard, AfriForum se takvoorsitter in Krugersdorp bedank al die buurtwaglede asook die Renegade-span vir hulle flink optrede. “Ons jeug moet ten alle koste beskerm word, hulle is ons toekoms. Die gereelde inoefen van gebeurlikheidsplanne het tot volg gehad dat ons haar vinnig en veilig kon opspoor,” sluit Lombard af.

Die buurtwag het op 19 Oktober inligting ontvang oor ’n vragmotor en sleepwa wat voor Vosloorus gekaap is. Die buurtwag is geaktiveer en het dadelik in samewerking met Dowry HRT en Fidelity begin om hulle gebeurlikheidsplan in werking te stel. Terwyl die soektog na die vragmotor en sleepwa aan die gang was, het die buurtwag ’n kennisgewing van nóg ’n gesteelde voertuig gekry. Daar het ’n leidraad oor die ligging van die sleepwaens ingekom en dit is ook toe dat die buurtwag die nodige inligting rondom die tweede gesteelde voertuig ontvang het.

Die gesteelde voertuig is opgespoor sowel as die trok en sleepwaens – die vrag wat deur die sleepwaens gedra is was egter weg.

Lombard meen dat dit belangrik is om meer as een gebeurlikheidsplan te hê vir situasies soos hierdie, al is dit uitdagend. “Ek wil ook graag vir Dowry HRT en Fidelity dankie sê vir hulle bydrae en samewerking om hierdie aksie ’n sukses te maak.”

Soortgelyke plasings