| |

AfriForum-buurtwag in Orkney help met die verspreiding van kospakkies

AfriForum se Orkney-buurtwag het die behoefte aan die verspreiding van kospakkies in Orkney raakgesien. Die buurtwag het hul lede en ander kontakte ingespan om kos in te samel en te versprei aan mense wat hulle inkomste weens die inperking verloor het en nie vir hul gesinne kan sorg nie. Twee plaaslike supermarkte het elk ’n trollie in hul winkels beskikbaar gestel vir skenkings van kos, en een het self ook groente geskenk.

Dié bydraes is op verskeie buurtwaggroepe gekommunikeer, waarna talle ander ondernemings ook betrokke geraak het. Vier gesinne is Saterdag 18 April met kospakkies gehelp wat deur plaaslike ondernemings geskenk is. Maandag 20 April het 32 gesinne kospakkies ontvang wat deur plaaslike ondernemings, supermarkte ander individue uit die gemeenskap geskenk is.

Joanita Labuschagne, voorsitter van AfriForum se Orkney-buurtwag, sê dat hulle elke tweede of derde dag kospakkies wil uitdeel, afhangende van die voorraad wat beskikbaar is. “Baie dankie aan ons eie patrollielede wat die insameling, verpakking en verspreiding behartig.”

“Dit is ongelooflik hoe mense hulle harte en hande oopmaak in tyd van nood en daarvoor is ons baie dankbaar. Ons vermoed dat hierdie krisis vir ’n geruime tyd sal voortduur, daarom wil ek ook mense aanmoedig om met idees vir werkskepping na vore te kom sodat hierdie probleem volhoubaar opgelos kan word sodra die tyd van inperking verby is,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Om deel te word van hierdie inisiatief, kontak vir Joanita Labuschagne by 061 506 4260.

Soortgelyke plasings