| |

AfriForum-buurtwag in Potgietersrus help om voertuigdief vas te trek

Die AfriForum-buurtwag in Potgietersrus het die SAPD op 10 September bygestaan met die arrestasie van ’n vermeende voertuigdief.

Die buurtwag het kort na hul Mahwelereng SAPD bygestaan het met die soektog na ’n vermeende verkragter, inligting ontvang van die SAPD wat hulp benodig met die soektog na ’n gesteelde voertuig wat op pad was na Nylstroom. Die buurtwag het saam met lede van die SAPD ’n soektog op die R101 en N1 van stapel gestuur.

Die verdagte voertuig is geïdentifiseer en ’n jaagtog het tussen die SAPD en die verdagtes plaasgevind. Die voertuig het verby buurtwaglede gejaag wat ook die voertuig agterna gesit het. Die verdagte voertuig het gerol en een van die verdagtes is in die ongeluk beseer. Die twee verdagtes is met behulp van die AfriForum-buurtwag gearresteer.

“Die veiligheid van ons gemeenskap is ons elkeen se verantwoordelikheid. Ons wil graag lede van die gemeenskap uitnooi om betrokke te raak by die AfriForum-tak en -buurtwag om ’n daadwerklike verskil te maak,” sê Hennie de Vos, voorsitter van die AfriForum-tak in Potgietersrus.

Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo, het die buurtwag bedank vir hul ondersteuning aan die gemeenskap. “Die AfriForum-buurtwag in Potgietersrus se paraatheid en samewerking met die SAPD is ’n voorbeeld vir ander veiligheidstrukture. Samewerking tussen die gemeenskap en die SAPD is noodsaaklik om ’n veilige en voorspoedige omgewing te skep.”

Om by die AfriForum-buurtwag in Potgietersrus aan te sluit, laai die Telegram-toep af en soek @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings