| |

AfriForum-buurtwag in Stilfontein help om gemeenskap veilig te hou

AfriForum se Stilfontein-buurtwag het in Maart hard gewerk om die gemeenskap veilig te hou en het 155 patrollies gery en ongeveer 5 426 km afgelê.

Die buurtwag het talle arrestasies gemaak vir onder meer betreding, huisbraak en diefstal, die besit van koperdrade en die beskadiging van infrastruktuur. Die verdagtes is aan die SAPD oorhandig. Die buurtwag maak ook gereeld ’n draai by ten minste nege leë huise wat maklik vir onwettige bedrywighede gebruik kan word.

Die buurtwag versamel baie nuttige inligting rakende misdade en deel dit met die SAPD wat dan kan optree. Talle verdagte voertuie is dopgehou en die besonderhede is aan die SAPD deurgegee sodra dit blyk dat die voertuig met onwettige bedrywighede besig is.

Die buurtwag hanteer verder talle voorvalle om die gemeenskap veilig te hou, wat insluit bakleiery, verdagtes in erwe, om minderjariges te beveilig, die terugvind van gesteelde goedere, om minderjariges wat eiendom beskadig aan die skoolhoof te oorhandig, hulpverlening tydens ongelukstonele, kabeldiefstal, om mense na die hospitaal te begelei, die besit van dwelms, roof, die beskadiging en diefstal van infrastruktuur, die verwydering van betreders, aanranding, en huishoudelike geweld.

“Die terugvoer wat ek van die publiek kry, is ongelooflik. Die waardering vir dit wat die Stilfontein-buurtwag doen kan nie in woorde omgesit word nie. Die AfriForum-buurtwag bestaan uit ’n klomp uitstekende manne en vroue wat reageer as dit moet, selfs al is dit om verdagtes om 02:00 of 03:00 soggens in hegtenis te neem,” sê Marius Trollop, AfriForum se buurtwagleier in Stilfontein.

“Dit is bemoedigend dat lede van die gemeenskap bereid is om nie net na hulle eie nie, maar ook na ander mense se veiligheid om te sien. Ek moedig inwoners wat nog nie aktiewe lede van die buurtwag is nie aan om aan te sluit,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Kontak vir Trollip by 082 494 4123 om by die buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings