|

AFRIFORUM-BUURTWAG IN STILFONTEIN HELP SEKURITEITSMAATSKAPPY EN SAPD OM VERMEENDE DIEF AAN TE KEER

Die AfriForum-buurtwag in Stilfontein het op 27 Junie bystand aan CSS Sekuriteit en die SAPD verleen om ’n vermeende dief, wat na bewering bier gesteel het, aan te keer. ’n Lid van die buurtwag het ’n verdagte met ’n vullisblik in die straat gesien en lede van die buurtwag, CSS Sekuriteit en die SAPD se hulp ontbied. By nadere ondersoek is verskeie houers bier gevind wat onder in die vullisblik weggesteek is.

Die eienaar van ’n nabygeleë kuierplek het by die toneel opgedaag en bevestig dat die verdagte ’n skoonmaker by die kuierplek is. Volgens die eienaar blyk dit of daar gereeld op dié wyse drank gesteel is. Die verdagte is in hegtenis geneem.

Pieter du Preez, leier van AfriForum se Stilfontein-buurtwag, het vir John Tait, die buurtwaglid wat die verdagte raakgesien het, asook CSS Sekuriteit en die SAPD bedank vir die vinnige optrede en goeie samewerking.

“Hierdie mag dalk na ’n klein insident lyk, maar wat vir my verblydend in hierdie situasie  is, is die feit dat die buurtwag, die sekuriteitsmaatskappy en die SAPD so goed saamgewerk het en elke dag so saamwerk. Dis net deur sulke goeie samewerking dat misdaad bekamp kan word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die buurtwag betrokke te raak. Skakel vir Pieter du Preez by 079 221 9348 of SMS “Stilfontein” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings