|

AfriForum-buurtwag laat misdaad afneem

AfriForum se Kameeldrift-buurtwag het die afgelope paar maande gesorg dat misdaad van ongeveer 15 voorvalle per maand na ongeveer twee afgeneem het. Die buurtwag het aktief begin om patrollie in dié gebied te ry om sigbaarheid te verhoog en só die gebied te beskerm.

Misdaadstatistiek in die Roodeplaat-gebied toon dat gemiddeld 15 voorvalle elke maand vanaf Januarie tot Maart 2019 aangemeld is, maar sedert April slegs ’n gemiddeld van twee.

Volgens Conrad Meyer, AfriForum se buurtwagkoördineerder vir Kameeldrift, het die buurtwag inligting ingesamel soos wanneer en hoe laat misdade in die omgewing gepleeg word, en patrollies daarvolgens uitgevoer. “Dit het tot gevolg dat misdaad in die gebied drasties afgeneem het.”

Meyer voeg ook by dat die afname in misdaad toegeskryf kan word aan die suksesvolle beplanning en aanpassing van die buurtwag om misdadigers te ontwrig in die tye wat hulle aktief in die area wil beweeg. “Ons buurtwag het ons patrollies verskuif om aan te pas by die inligting wat ons ingesamel het. Ons het ook meer patrollies begin ry en die gemeenskap ook meer by die aksies betrek. Doeltreffende kommunikasie tussen die buurtwag en inwoners het ook baie gehelp om misdaad te laat daal en die misdadigers te ontmoedig om die gebied binne te kom.”

Jaco Gobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, sê goeie samewerking tussen verskillende strukture is van kardinale belang om misdaad hok te slaan. “Suksesse soos hierdie word gedryf deur samewerking tussen die SAPD, die gemeenskap en privaat sekuriteitsmaatskappye, asook doeltreffende kommunikasie. Dié buurtwag stel ’n goeie voorbeeld van die sukses wat behaal kan word as die gemeenskap saamstaan en inligting doeltreffend gebruik.”

Raak vandag nog aktief by AfriForum se buurtwagte betrokke: SMS jou naam na 45341 (R1) en dra tot die positiewe verskil by.

Soortgelyke plasings