|

AfriForum buurtwag-lid eerste op toneel by plaasaanval buite Bela-Bela

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

JE Pieterse, ʼn lid van AfriForum se RTL-plaaswag, was vanoggend eerste op die toneel nadat ʼn 85-jarige boer omstreeks 08:00 op sy kleinhoewe in Roodekuil, buite Bela-Bela in Limpopo, deur vier gewapende mans aangeval is.

Volgens Pieterse, wat op ʼn buurplaas in die Roodekuil-gebied woon, is die slagoffer, mnr. John Ramalho, oorval toe hy na sy bakkie toe gestap het om dorp toe te ry.

Die aanvallers het Ramalho toe in sy huis ingedwing en vasgebind. Sover bekend het hy alleen gewoon.

Hy is daarna herhaaldelik aangeval en gedwing om sy kluissleutels aan die verdagtes te oorhandig. Volgens Pieterse het Ramalho egter nie die sleutels in sy besit gehad nie.

Een van sy plaaswerkers is ook vasgebind, maar het homself losgemaak en na Pieterse se plaas gejaag om hulp te vra.

Pieterse het aan Forum Nuus gesê dat die verdagtes reeds met Ramalho se Nissan dubbelkajuitbakkie gevlug toe hy en die plaaswerker op die toneel gekom het.

Hulle het vir Ramalho vasgebind op die vloer in sy huis gevind.

Volgens Pieterse was Ramalho se gesig stukkend geslaan en geswel.

Sy kluis is ook oopgebreek en vier wapens, wat ’n haelgeweer, ’n .303-jaggeweer, ’n .22-geweer en ’n 765-pistool insluit, kontant en ander huishoudelike toerusting is gesteel.

Pieterse sê voorts dat die polisie en nooddienste binne twintig minute op die toneel was.

Ramalho is tans in die hospitaal in Bela-Bela. Hy het ernstige beserings opgedoen en daar word vermoed dat hy ook bloeding op die brein opgedoen het.

Enigiemand met inligting oor die rooftog en aanval kan kapt. Renier Schutte by 082 565 9051 bel. Die bakkie se registrasienommer is DNR 516 L.

Soortgelyke plasings