|

AfriForum-buurtwag help om verdagte vas te trek

AfriForum se Alfa-buurtwag, wat deel vorm van die organisasie se Overstrand-tak, het op 12 Januarie 2022 in samewerking met die plaaslike SAPD en ander veiligheidsrolspelers gehelp om ’n verdagte vas te trek nadat die verdagte na bewering twee stappers in Onrus aangeval het en glo ook by ’n huisroof betrokke was.

AfriForum se Alfa-buurtwag het omstreeks 10:30 ’n oproep op die buurtwag se noodnommer ontvang dat ’n stapper op die hoek van Atlantic- en Arumstraat aangeval is. Verskeie veiligheidsrolspelers is geaktiveer om die verdagte te vind. Die buurtwag het ongeveer 15 minute daarna nog ’n noodoproep ontvang dat twee vroue in Arumstraat in hul huis aangeval is. Danksy vinnige optrede is die verdagte opgespoor en in hegtenis geneem waarna hy aan die SAPD oorhandig is. 

“’n Opregte woord van dank aan almal wat ’n rol gespeel het om die verdagte vas te trek. AfriForum sal aanhou om met ander organisasies saam te werk en hulp te verleen waar nodig om sodoende ons gemeenskappe meer weerbaar te maak,” sê Lourens Theron, AfriForum se veiligheidsvoorsitter in die Overstrand.

Om by een van AfriForum se veiligheidstrukture betrokke te raak SMS “Veilig” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings