AfriForum-buurtwag in Tzaneen help om vermeende plaasaanvaller vas te trek


AfriForum se Tzaneen-buurtwag het op Sondag 10 Junie in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ’n vermeende gewapende plaasaanvaller in Kgapane vasgetrek. Sy medepligtige is ook op dieselfde dag gearresteer.
Die polisie soek die verdagte al sedert 2 November 2017, toe hy na bewering op ’n plaas toegeslaan en op plaaswerkers losgebrand het. Pieter Venter, voorsitter van AfriForum se Tzaneen-tak, het die saak by die SAPD geopen. Die volgende dag (3 November) is ’n buurplaas ook aangeval en een van die werkers is met dieselfde wapen geskiet. Die plaaswerker het in die hospitaal gesterf. Intussen was daar nog ses gewapende rooftogte in die gebied na afloop waarvan slagoffers ’n eenderse beskrywing van die verdagte en die wapen gegee het.
Volgens Venter was die inwinning van akkurate inligting die sleutel tot sukses.

“AfriForum in samewerking met TrackBox het ’n profiel van die verdagte geskep en verdere inligting is deur ’n AfriForum-netwerk ingewin om die profiel te voltooi. Ons het dié inligting aan die SAPD oorhandig wat die verdagte Sondag gearresteer het.”

Die wapen wat gebruik is, asook die klere wat die verdagte na bewering tydens rooftogte gedra het, is in sy besit gevind. Daar is ook beslag gelê op van die gesteelde items.
Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, sê die arrestasie is ’n uitstekende voorbeeld van hoe die gemeenskap en die SAPD kan saamwerk om misdadigers vas te trek.

“Met goeie, betroubare inligting kan die polisie misdaad hokslaan en selfs voorspring. Goeie samewerking en vertroue tussen die gemeenskap en SAPD is ook van kardinale belang. Gemeenskappe moet die vermoë ontwikkel om inligting in te samel en te verwerk, asook om veiligheidsaksies saam met die polisie aan te pak.”

AfriForum moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by veiligheidstrukture in hul gebiede. Vir meer inligting, kontak vir Pieter Venter by 083 822 1560.

Soortgelyke plasings