AfriForum-buurtwag in Vryburg verhoed moontlike plaasaanval


Die blitsige en doeltreffende optrede van die AfriForum-buurtwag se protospan in Vryburg het betreders op ’n plaas in dié gebied op die vlug laat slaan.
’n Boer in die distrik het die AfriForum-buurtwag se hulp op Maandagaand 26 Februarie 2018 omstreeks 21:00 ontbied nadat hy verdagte persone op sy werf opgemerk het. Een van die verdagtes was volgens die boer ook gewapen met ’n vuurwapen. Die protospan het dadelik gereageer en die plaas te voet binnegegaan oor al die hekke gesluit was.
Hulle het verdagtes op die werf opgemerk en die situasie dopgehou. Omdat die werf baie verlig is, kon die protospan nie ongesiens nader beweeg nie en het die verdagtes onraad vermoed en op die vlug geslaan. Die protospan het die verdagtes in die donker veld verloor. Die boer, sy gesin en plaaswerkers is ongedeerd.

“Hierdie voorval bewys weereens dat boere uiters paraat moet wees. Die boer se oplettendheid en die protospan se vinnige, doeltreffende optrede het ’n moontlike plaasaanval voorkom. Ek wil ’n beroep op die gemeenskap doen om aktief by veiligheidstrukture betrokke te raak. Ons het groot waardering vir die toewyding van die protospan – wat vrywilligers is – wat hul tyd opoffer en ook hul lewens ter wille van die gemeenskap in gevaar stel,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Vryburg” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings