|

AfriForum-buurtwaglede help om dief by kitsbank vas te trek

AfriForum-buurtwaglede in Modjadjiskloof het op 17 Augustus gehelp om ’n verdagte in hegtenis te neem wat na bewering betrokke was by diefstal by ’n Standard Bank-kitsbank.

’n Verdagte het vermoedelik die geheime kode (PIN) van ’n plaaslike inwoner by ’n kitsbank afgekyk en daarna die slagoffer se bankkaarte gegryp en weggehardloop. Die verdagte het in ’n voertuig gespring en na die naaste FNB-kitsbank gejaag, waarna hy na bewering ’n transaksie op die slagoffer se rekening deurgevoer het.

Plaaslike inwoners en lede van AfriForum se Modjadjiskloof-buurtwag het die verdagte in die kitsbank vasgekeer en in hegtenis geneem. Twee ander verdagtes kon egter in hul wegkomvoertuig vlug. Die slagoffer se geld wat getrek is en die bankkaarte is teruggekry, terwyl ’n saak ook teen die verdagte aanhangig gemaak is.

“Ek wil my dank uitspreek teenoor die plaaslike gemeenskap wat saamgewerk het om die verdagte te arresteer,” sê Riaan Swart, voorsitter van AfriForum se Modjadjiskloof-buurtwag.

“Ons is almal moeg vir misdaad. Hierdie was nie die eerste geval van hierdie tipe misdaad nie, maar gelukkig kon een van die verdagtes vasgetrek word te danke aan gemeenskapslede wat saamgestaan het. ’n Besondere woord van dank aan Jurie Strydom vir sy hulp met hierdie saak,” sê Swart.

Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo, het die buurtwaglede bedank vir hulle ondersteuning aan die gemeenskap. “Hierdie is ’n duidelike bewys dat misdaad nie velkleur oorsien nie. Dit is nog ’n duideliker bewys dat verskillende gemeenskappe, wanneer hulle ’n gemene doel het, suksesvol saam kan werk om misdaad te bekamp en daardeur ’n veiliger ruimte vir almal kan skep.”

Om by AfriForum se Limpopo-buurtwagte en -plaaswagte betrokke te raak, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot) óf SMS “Noordstreek” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings