|

AfriForum-buurtwagnetwerk in Noordwes werp vrugte af

AfriForum se buurtwag in Vryburg het op 25 April ’n netwerk van buurtwagte ontplooi om die verdagtes agterna te sit wat ’n kitsbank in dié dorp opgeblaas het. Een verdagte is in hegtenis geneem. Tegnologie het ’n groot rol in hierdie jaagtog gespeel, aangesien daar van ’n kameranetwerk en ’n hommeltuig gebruik gemaak is om die verdagtes op te spoor.

Die verdagte voertuig is met die kameranetwerk geїdentifiseer en die inligting is na die buurtwagte op die moontlike roetes versprei. Die verdagtes is by Hartbeesfontein opgespoor en ses voertuie van verskillende instansies het die voertuig agtervolg. Die verdagtes het hulle egter ontglip as gevolg van ’n gebrek aan mannekrag. Klerksdorp se blitspatrollie is toe ontplooi en het uiteindelik die verdagtes oorkant die Matlosana-winkelsentrum voorgekeer. Die verdagtes het uit die voertuig uitgespring en die AfriForum-tak se lugvleuel is met die hommeltuig ontplooi. Een van die verdagtes is met die hommeltuig in ’n rietbos opgespoor en gearresteer. Die ander verdagtes het gevlug.

“Hierdie sukses is ’n bewys daarvan dat ’n netwerk van buurtwagte en kommunikasie tussen die verskillende buurtwagte van uiterste belang is. Dié sukses word ook toegeskryf aan die feit dat die AfriForum-buurtwagte goed opgelei is in die nuutste tegnologie. Verder is samewerking met die SAPD en alle rolspelers ook belangrik om die gemeenskappe veilig te hou,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Kontak vir Pretorius by 081 217 1627 om by hierdie netwerk van buurtwagte aan te sluit.

Soortgelyke plasings