AfriForum-buurtwagte aan Oos-Rand ontvang opleiding

 

Die burgerregte-organisasie AfriForum se Edenvale- en Kempton Park-buurtwag het op 24 Maart slagofferbystandopleiding ontvang. Dié opleiding is tydens ’n werkswinkel deur Olivia Guerini, ’n geregistreerde berader, aangebied.

“Met die sterk groei van AfriForum se Oos-Rand-buurtwagte is dit van kardinale belang dat ons buurtwaglede voortgesette professionele opleiding ontvang. Die buurtwaglede staan verskeie persone op tonele by en moet weet hoe om in spesifieke situasies op te tree,” sê Jan Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak.
Volgens Linda McKenzie, voorsitter van die veiligheidsportefeulje van AfriForum se Edenvale-tak, is hierdie opleiding slegs die eerste fase van ’n reeks opleidingsessies wat in samewerking met verskeie rolspelers beplan word. “Die buurtwag wil ’n positiewe verskil in ons gemeenskap maak, maar ons is net so sterk soos ons ledetal. Ons doen daarom ’n beroep op die gemeenskap om by hulle plaaslike AfriForum-tak en -buurtwag betrokke te raak en proaktief tot die bekamping van misdaad by te dra.”

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings