AfriForum-buurtwagte in Groter Pretoria neem aan nasionale patrollie deel


AfriForum se buurtwagte in Gauteng het op 8 Maart 2019 van 16:00 tot 06:00 aan dié burgerregtewaghond se nasionale patrollie deelgeneem. Die Apiesrivier-, Bronkhorstspruit-, Hennopsriviervallei-, Moot-, Meyerspark-, Pretoria-Wes- en Wes-Moot-buurtwag was, in samewerking met talle ander veiligheidsinstansies, sekuriteitsmaatskappye en die polisie in die Tshwane Metropool, by die nasionale patrollie betrokke.

Altesame 15 AfriForum-buurtwagte en 241 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem. Meer as 3 215 km is in 156 voertuie afgelê in ’n totaal van 276 manure. Geen voorvalle is aangemeld nie.
Nege ander veiligheidsinstellings – onder meer GPF’s, sekuriteitsmaatskappye, die SAPD en ander privaat buurtwagte – het saam met AfriForum aan dié patrollie deelgeneem.

“AfriForum loods hierdie nasionale patrollies om sigbaarheid en samewerking te verbeter, asook om die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord.
“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en self hul veiligheid te begin prioritiseer. Ons kan nie op die staat alleen staat maak om na ons veiligheid om te sien nie. Raak by enige plaaslike veiligheidsinstelling in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sluit De Klerk af.

SMS “Buurtwag” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings