|

AfriForum-buurtwagte help om vermiste persoon op te spoor

Die AfriForum-buurtwagte in Krugersdorp en Randfontein het op 11 November 2021 ’n reusesukses behaal nadat dié buurtwagte kragte met die Carletonville GPF saamgesnoer het om ’n vermiste persoon op te spoor.

’n Versoek is aan die AfriForum-buurtwagte gerig en ’n span is binne minute saamgestel om met die soektog te help. Inligting is gedeel tussen ander rolspelers in die area soos die Carletonville GPF en AfriForum se Roodepoort-buurtwag oor onder meer watter moontlike roetes die persoon kon volg. Danksy die LPR-kameras kon die buurtwagte daarin slaag om die moontlike roetes wat hy sou ry, te bevestig en patrollies is van stapel gestuur.

Dit het later in die dag aan die lig gekom dat die persoon deur die loop van die oggend gekaap is en as gyselaar aangehou is. Die persoon kon egter daarin slaag om te ontsnap en het sy ligging van ’n bystander se selfoon af gedeel. AfriForum se Krugersdorp-buurtwag het onmiddellik na die toneel gegaan waar hulle die persoon in ’n toestand van skok gekry het.

Hy is ondersoek en later met sy naasbestaandes herenig. Die saak is aan die SAPD oorhandig vir verdere ondersoek.

“Dit is vir ons gerusstellend om te weet daar is mense daarbuite wat bereid is om ander op kort kennisgewing te help. Ek is trots om te sien hoe ’n gemeenskap ernstig is oor mekaar se veiligheid,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se hoof vir Gemeenskapsveiligheid in die noordstreek.

“Deur gebeurlikheidsplanne in plek te hê en dit gereeld in te oefen help ons as buurtwaglede om vinnig en doeltreffend in sulke situasies op te tree,” sê Martin Lombard, voorsitter van AfriForum se Krugersdorp-tak.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke: SMS “buurtwag” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings