|

AfriForum-buurtwagte help SAPD met arrestasie van poging-tot-moord-verdagte

Buurtwaglede van AfriForum se Pietersburg- en Mojadjiskloof-buurtwagte het op 18 Augustus 2020, saam met SPS Services, Mighty Tactical Reaction Service en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), die SAPD gehelp om ’n gewapende rower wat op die polisie geskiet het, vas te trek.

Die SAPD het omstreeks 18:00 inligting van ’n gewapende rower in ’n wit Golf 6 met vervalste nommerplate in Pietersburg ontvang. Sekuriteit, buurtwaglede en GPF-lede het die polisie ondersteun deur die voertuig dop te hou, toegangsroetes te beman en inligting aan die SAPD deur te gee oor die beweging van die verdagtes.

Ná ’n jaagtog van ongeveer drie uur deur Pietersburg en die omliggende gebiede is die verdagte en die voertuig opgespoor. Die voertuig het in die veld in Penina Park ingejaag. Die verdagte is in hegtenis geneem vir poging tot moord op ’n polisiebeampte en die saak word verder ondersoek.

“Ek wil die buurtwaglede wat gehelp het om te reageer en inligting deur te gee, bedank vir hulle hulp. Ons sal voortgaan om bystand te lewer waar ons kan sodat ons ’n veilige omgewing kan skep,” sê Arnold Smith, voorsitter van AfriForum se Pietersburg-buurtwag.

“Ons kon goed sien dat elkeen ’n rol het om te speel en die buurtwag kon ’n verskil maak aan die uitkoms deur belangrike punte te beman. Buurtwagte speel al hoe meer ’n wesenlike rol in gemeenskapsveiligheid. Ons bou stukkie vir stukkie aan ’n sisteem van onderlinge samewerking sodat ons ’n veilige toekoms kan verseker,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Raak by AfriForum in Limpopo betrokke: Laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot). Of SMS “noordstreek” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings