|

AfriForum-buurtwagte in Apiesrivier-omgewing hou massapatrollie

AfriForum se buurtwagte het die naweek van 13 September ’n massapatrollie in die Apiesrivier-omgewing gehou om misdaad te voorkom. Dié massapatrollie het in samewerking met verskeie sekuriteitsmaatskappye en gemeenskapslede plaasgevind, wat gehelp het om sigbaarheid in die area te verhoog.

Altesaam 76 voertuie en 152 gemeenskapslede het aan die patrollie deelgeneem. Die lede het gedurende die massapatrollie 4 638 km in 399 man-ure in die verskillende gebiede afgelê en het met ses insidente bystand gebied.

“AfriForum loods hierdie massapatrollies om sigbaarheid te verhoog, samewerking tussen alle veiligheidsinstellings te verbeter en die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker,” sê Jaco Brits, ondervoorsitter van AfriForum se Apiesrivier-tak.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, sê goeie samewerking tussen verskillende strukture is uiters belangrik om misdaad hok te slaan. “Suksesse soos hierdie word gedryf deur samewerking en doeltreffende kommunikasie tussen die gemeenskap en privaat sekuriteit. Die buurtwagte stel ’n goeie voorbeeld van die sukses wat bereik kan word as die gemeenskap saamstaan en proaktief optree.”

Brits bedank ook die gemeenskap en alle rolspelers vir die reëlings en beplanning wat daartoe bygedra het dat die patrollie seepglad verloop.

“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en self hul veiligheid te begin prioritiseer. Ons kan nie net op die polisie staatmaak om na ons veiligheid om te sien nie. Raak by enige veiligheidsinstelling in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sê Grobbelaar.

Raak vandag aktief by AfriForum se buurtwagte betrokke: SMS jou naam na 45341 (R1) en maak op dié manier ’n positiewe bydrae.

Soortgelyke plasings