|

AfriForum-buurtwagte in die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal neem aan nasionale patrollie deel

AfriForum-buurtwagte in die sentraalstreek – wat die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal insluit – het op Vrydag 18 September aan dié burgerregteorganisasie se nasionale patrollie deelgeneem.

In die Vrystaat het altesaam 17 AfriForum-buurtwagte en 280 patrolleerders in 151 voertuie deelgeneem. Hulle het meer as 5 500 km afgelê en 28 voorvalle suksesvol in samewerking met die SAPD hanteer.

Die AfriForum-buurtwagte in Hluhluwe, Margate, Newcastle, Vryheid en Pongola het ook aan die patrollie deelgeneem. Dit het 172 patrolleerders in 111 voertuie betrek, en altesaam het hulle meer as 4 500 km afgelê. Tien voorvalle is in dié provinsie in samewerking met die SAPD hanteer.

In Noordwes het altesaam 20 buurtwagte, 918 patrolleerders en 499 voertuie aan die patrollie deelgeneem en meer as 16 600 km afgelê. Sowat 57 voorvalle is suksesvol hanteer.

Ander veiligheidsinstansies – onder meer die SAPD, sekuriteitsmaatskappye en nooddienste – het saam met AfriForum aan die patrollie deelgeneem.

“AfriForum loods dié nasionale patrollies om sigbaarheid en samewerking te verbeter en die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker,” sê Joseph Renaud, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek.

“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en hul veiligheid self te prioritiseer. Ons kan nie op die staat alleenlik steun om na ons veiligheid om te sien nie. Raak by enige plaaslike veiligheidsinstansie in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sluit Renaud af.

Maak ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap deur vandag nog by jou plaaslike buurtwag aan te sluit. SMS “Buurtwag” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings