|

AFRIFORUM-BUURTWAGTE IN ELLISRAS HOU SIGBAARHEIDSPATROLLIE SAAM MET SAPD

Die AfriForum-buurtwag in Ellisras het op 26 Februarie ’n sigbaarheidspatrollie saam met die polisie in Lephalale uitgevoer. Dié patrollie is in voertuie uitgevoer met die doel om die sigbaarheid van wetstoepassers in die dorp te bevorder en daardeur misdaad te voorkom.

“Misdaadvoorkoming is die kern van enige buurtwag. Dit word hoofsaaklik uitgevoer deur sigbaarheidspatrollies soos hierdie. Deurlopende bewusmaking van die buurtwag se teenwoordigheid en skakeling met die polisie ontmoedig misdadige optrede. Volgens prof. Rudolph Zinn, verbonde aan die departement van polisiëring en forensiese ondersoeke aan Unisa, speel sigbare patrollies en buurtwagte ’n rol in tot 68% van gevalle gedurende die uitoefening van ’n keuse deur misdadigers om voort te gaan met ’n huisbraak al dan nie,” sê Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Hennie Badenhorst, leier van AfriForum se Ellisras-buurtwag, het al die buurtwag- en polisielede bedank wat deelgeneem het. “Die Ellisras-buurtwag is altyd bereid om te help waar nodig en gereed om ’n verskil te maak, ongeag die wind of weer of tyd van die dag of nag.”

Om betrokke te raak by die AfriForum-buurtwag in Limpopo, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings